Archives by date

You are browsing the site archives by date.

Die Oppiwater Kunstefees

Hallo – ek hoop dit gaan voor die wind!

More (17 Maart) vertrek ek op die boot vir die RSG/LEFRA Oppiwaterkunstefees. Ek en Wessel van Wyk doen die aand van die 20ste Maart ons twee vertonings rug-aan-rug. Ek sien so uit daarna – al moet ons more baie vroeg die vliegtuig na Durban haal!

Ek sal dus tot Vrydag grotendeels uit verbinding met die buitewereld wees.

Ek vertel meer as ek weer terug is.

Liefdegroete

Laurika

Hier is n bietjie meer inligting oor die eerste Oppiwaterfees:

RSG en LEFRA PRODUKSIES bied met trots aan – die eerste volwaardige Afrikaanse Kunstefees op Starlight Cruises se nuwe skip, die MSC Opera.  Wat is dan nou meer gepas om die OPPIWATER KUNSTEFEES op ‘n skip met die naam DIE OPERA te hou?  Dit is de grootste en mees moderne skip wat nog in Suid-Afrikaanse water gevaar het.

Die MSC Opera skip doen haar naam beslis gestand – klassiek, groot, weelderige – en is regtig ‘n luukse boot vir opera en om kuns te maak.   Daar is heelwat ruimte op die Opera wat dit een van MSC Cruises se top skepe maak.  Baie van die kajuite op die MSC Opera het private balkonne (ek en my dogter Nina gaan in so ‘n kajuit bly!!!) en is ruim en gemaklik. Dit vertoon die kenmerkende Italiaanse styl wat op al MSC Cruises se statige skepe gevind word.  Die openbare areas is verbeter deur ‘n marmer ontvangs-area en pragtige oop ruimtes met glasmure om die die hele tyd die dramatiese en mooi see-uitsig te geniet.

Om te reis op die MSC Opera is om die beste van die outydse elegansie te ervaar met die beste van die moderne geriewe.  Sodra jy aanboord die MSC Opera gaan, kan jy uitsien na ‘n werklik outentieke Italiaanse ervaring.  Geniet ‘n espresso by die koffiekroeg of geniet in ‘n tipiese handgemaakte Italiaanse roomys. Neem Italiaanse lesse, stop by die Internetkafee of maak gebruik van ons Wi-Fi plekke in sekere areas op die skip. Spandeer kwaliteit tyd saam met die kinders in ‘n rondte mini-golf of neem klasse by die gesondheidsklub. Saam met die sonsodergang, geniet ‘n heerlike skemerkelkie in een van ons verskeie kroeë en geniet ons sewe-gang aandete in ons deftige restaurant.  Daarna begin die aand eers met produksies van ons Oppiwater Kunstefees in die pragtige Teater of ander venues.

Hierdie lekker OPPIWATER KUNSTEFEES vaart vind plaas vanaf 17-21 Maart.  OPPIWATER besoek onder andere Maputo en die Portugese eilande.  Die res van die tyd hou ons Afrikaanse Kunstefees vir die fynproewer met van die voorste kunstenaars, produksies, toneel, komedie, kabaret en musiekproduksies.  Dis uniek – ‘n kunstefees op ‘n drywende hotel met sy pragtige teater en verskillende kleiner venues.

Magdaleen Kruger, Stasiebestuurder van RSG en Frans Swart, Hoof Uitvoerende Beampte van Lefra Produksies het een oggend ontbyt geëet om te gesels oor 2014 se beplanning.  Daar is gesels oor wat RSG en LEFRA saam kan doen wat uniek is.  Eers sê Magdaleen: “Wat van ‘n spesiale Kunstefees?”  En Frans haak af en sê:  “Maar wat van ‘n Kunstefees op ‘n luukse skip?”  En so is die Oppiwater Kunstefees op die MSC Opera gebore.

Die Oppiwater Kunstefees op die MSC Opera spog met die room van Suid-Afrika se vermaaklikheidswese.  Laurika Rauch doen haar GROOTSTE TREFFERS-konsert. Sandra Prinsloo is te sien in OSKAR EN DIE PIENK TANNIE en Koos Kombuis tree ook OPPIWATER op in sy produksie, KOOS KOMBUIS.  Lefra se nuwe klug, MY BOETIE SE SUSSIE SE OU deur Ray Cooney met onder andere David Rees en Hennie Smit premiere ook op die boot met regie deur Frans Swart.  Kom lag lekker vir Hannes Muller in Groet die Grotman.  Liewe Heksie vaar (vlieg) ook saam met twee splinternuwe verhoogproduksies, LIEWE HEKSIE EN DIE TUINDWERGIE en LIEWE HEKSIE EN BOTTERBLOM.  Die Supersterre wenner, Kobus Muller doen sy produksie oor Engelbert Humperdinck en Alwyn Oberholster bring hulde aan Neil Diamond in BEAUTIFUL NOISE.  Koos van der Merwe se LEONARD COHEN IN AFRIKAANS word ook aangebied.

RSG aanbieders,  Amoré Bekker en Martelize Brink lewer wonderlike inspireringspraatjies en Derrich Gardner is jou gasheer met die dekpartytjie.

Die volledige program is beskikbaar by www.oppiwater.co.za

“Hierdie is ‘n unieke konsep,” sê Swart.  “Nog nooit is daar ‘n volwaardige Afrikaanse Kunstefees op ‘n boot gehou nie. Die lekker van so ‘n Kunstefees is dat alles natuurlik op hierdie luukse drywende hotel aangebied gaan word.  Jy stap dus letterlik van een venue tot die volgende een.  Jy hoef nie van venue na venue te jaag nie.  En jy hoef ook nie bekommerd te wees dat jy nie betyds by die volgende produksie gaan uitkom nie.”

Die OPPIWATER KUINSTEREES besoek Maputo, die hoofstad van Mosambiek.  Die volgende dag word daar aangedoen by die Portugese eilande waar jy LM Prawns kan eet en op verskeie ekskursies kan gaan.

16 Maart 2014