‘Wals, wals Willemien’ is byna hier!

 My nuwe album ‘Wals, wals Willemien’ is binnekort beskikbaar!

Dit sal my eerste solo-album in 4 jaar wees.  

Ek werk al, (soos jy seker sal weet!) sedert verlede jaar aan ‘Wals, wals Willemien’. Die titelsnit is geskryf deur Christoph Kotze,

medeskrywer van liedjies soos ‘Land van melk en heuning’ van Bok  en ‘Sal jy bly’ van Theuns.

Ek weet dat jy al lankal wag vir hierdie nuwe album.

Die wag is amper oor.

Daar is nog net so ‘n paar afrondingstakies om af te handel, dan gaan die boekie na die drukkers en die meester CD na die vervaardigers toe, en voor jy jou oë kan uitvee sal hy op die rakke wees!

Dankie aan almal wat vir my oor die jare gesê het: ‘Jou musiek is die klankbaan van my lewe – moet nooit ophou sing nie’.

Dit spoor my aan.

Miskien het jy gehou van ‘Bly nog so bietjie’ wat ek verlede jaar by Skouspel gesing het. Hy is op die album. My duet met Elvis Blue (my fantastiese sangmaat van ‘Hart en see’ en SAMA-wenner vir sy album ‘Afrikaans’) – ‘Al die strome’ – is ook op die album. Ek is bevoorreg om ook ‘n tweede duet op die album te kan sing saam met Joe Niemand – Ghoema-wenner vir sy album ‘Genoeg is genoeg’. Wat ‘n merkwaardige stem en aanslag het die man nie!  

Sedert November 2013 het ek saamgespan met Coleske Artists, wat nou my albums onder die ‘Afrikaans is groot’-etiket versprei. Ek is baie  dankbaar om deel te kan wees van die sterk kultuur van ‘familie’, lojaliteit en uitnemendheid van Coleske Artists.

Daar sal meer inligting wees oor die ander liedjies, die mense met wie ek saamgewerk het, foto’s en verskeie nuusbrokkies, soos die tyd aangaan.

Liefde tot straks

Laurika

30 April 2014