Digby my hart: Laurika Rauch in die Stadsaal, Stellenbosch Woordfees

In die laat sewentigs het Laurika, met die koms van televisie, in opdrag, die geleentheid gehad om vir verskeie verhoog- en televisieprogramme, gedigte van haar keuse te toonset.
Van haar toonsettings is reeds opgeneem op CD, soos Ingrid Jonker se ‘Toemaar die donker man’; ‘Boerneef se ‘Nalekokers’ en ‘Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier’; toonsettings van Hennie Aucamp-lirieke – en nog baie meer. Mettertyd het van haar minder bekende toonsettings in ‘n laai beland en toe Saartjie Botha van die ontontginde materiaal te hore kom, het sy gevra dat Laurika ‘n program saamstel wat uit baie van haar eie, maar ook ander komponiste (soos Laurinda Hofmeyr, Clarabelle van Niekerk en Chris Torr) se toonsettings sal bestaan.
‘Digby my hart’ het uit hierdie opdrag voortgevloei – ‘n versameling getoonsette gedigte van – ondermeer – Wilhelm Knobel en Marlise Joubert – tot by die digterlike lirieke van Chris Barnard.
Laurika is by uitstek ‘n vertolker, en hierdie vertoning gun haar en die gehoor die kans om, vir n uur of wat, in die uitnemende geselskap van die werk van verskeie van ons digters te verkeer.
Sy word op die klavier begelei deur die gerespekteerde Bloemfonteinse komponis/verwerker/pianis en begeleier, Anton Estherhuyse.
Datums en Tye: 5 Maart 20h00 en 6 Maart: 16h00. Kaartjies is by Computicket