Ballade van ‘n koningsdogter

Play

O bly het die koning se lippe gelag
En hoog het bokale geswaai
Kom ledig die beker se vonk’lende prag
En bring hier my dogter so fraai

Met ‘n fa, la, falalala en die sang van ‘n silwer basuin
Het die koning se bode die lelie gaan haal
Wat pryk in die koning se tuin

O bly het die koning se dogter gespeel
Die mooiste blom in die tuin
Toe hoor sy ‘n stem wat nog liefliker streel
As die sang van ‘n silwer basuin

Met ‘n fa, la, falalala en die oë so sag en so bruin
Het die koning se bode die lelie gaan haal
Wat pryk in die koning se tuin

“Die koning laat vra of sy dogter sal kom
Sy Majesteit vier fees
En soeter nog is die wyn vir hom
As sy dogter daar kan wees”

Met ‘n tra, la, tralalala
En die gloed van sy stem in haar hart
Het die koning se dogter
Die bode gevolg en vry was sy van smart

En teer het die oë wat haar verbly
Die lelie aangekyk:
Sy was die bloeisel so rein en hy -
Die stingel in die slyk

Met ‘n tra, la, tralalala
En die gloed van sy stem in haar hart
Het die koning se dogter haar minnaar gevolg
En vry was sy van smart

En gou het die koning opgespring
Om sy dogter te begroet
En die prinses na die troon te bring
Met die bode aan haar voet

Met ‘n ra, ta, ratatata
En die swaai van ‘n rooi banier
Het ‘n hoë besoeker daar aangekom
Om met hul fees te vier

Trots het die koning opgestaan
En almal luister nou:
O, howelinge hoor my aan
Die Blom van my huis gaan trou!

Met ‘n ra, ta, ratatata
En die swaai van ‘n rooi banier
Het die hoë besoeker uitgetree
O Koning ek is hier!

En bleek het die koning se dogter geword
En wild was haar oë nou
My laaste druppel bloed sal ek stort
Eer ek met die ridder trou!

Met ‘n fa, la falalala
En die sang van ‘n silwer basuin
Het die koning se bode gaan staan by sy blom
Gepluk uit die koning se tuin

O wreed het die koning se oë gevlam
En hoog het sy sabel geblink
Soos die kruin van ‘n wilker, gesny van sy stam
Het die bode neergesink

Met ‘n tra, la, tralalala
En ‘n kilte wat kruip oor haar hart
Het die koning se dogter gesing en gelag
Gesing en gelag
Met die singende stem van die smart

Woorde en Musiek: I.D.du Plessis/ Laurika Rauch
Uitgewer: Gallo Music Publishers / SAMRO

Verskyn op:
‘n Jaar in my lewe
Liedjies van vroeër