Die Telemans van Wêskou

Play


‘n Ballade van die suburbs

Die Telemans van Wêskou
Kan bêrekoop soos min
Dra saam aan paaiemente
Gaan tronk toe as gesin
Die Tellies dink elektriek
Getuig hul huurkoop huis:
Katoeters en kontrepsies
Van kelder tot kombuis
Die Telemans van Wêskou
Droom weekliks oor ‘n stel “met kleur!” skree al die kinders “iets anders sal nie tel!”
Mene mene tellie
Is die jongste geskrif
Wat mure laat tuimel
En Wêskou ontwrig
Miss Tellie staan op troue
Wil babas genereer
Die moeder is verbete: “ook ek gaan my beheer -
Ons lay-bye vir iets groters:
Die visie vanne volk:
In vierkleur word ons strewe
Na buitekant vertolk:
Ons voetbal en ons jukskei
En paasskou moet vertel
Ons twak is nog nie nat nie
Ons stuit nie vir die hel”
Mene mene tellie
Is die jongste geding
Wat setels laat tuimel
En kleure verwring
Die spriete van hul droomkas
Wek bure se venyn
Die Tellies kannie worry
Skrum bronstig om hul skryn:
Nog hegter as tevore
Is die Tellies nou verbind -
Al raak die vader duiselig
Die moeder tele-blind
Die dogter wil nie trou nie
Die droomkas is haar man
Nes al die ander Tellies
Tot flikkerbeeld verban
Mene mene tellie
Is die jongste gerig
Wat bedplig verduister
En liefde ontwrig

Woorde en Musiek: Hennie Aucamp / Jannie Hofmeyr
Uitgewer: Gallo Music Publishers / SAMRO