Onthou

Play

(Vir Willem)

Jy sê vir my ek moet vir jou ’n liedjie skryf, sodat jy my
Kan onthou wanneer ek dalk sou weggaan met die tyd
Jy sê jy wil van Mozart hoor, van Billy Joel en Koos Kombuis
En dat ek tog ’n stukkie Queen moet insit net vir jou

Ek sê vir jou jy sal my nie onthou met so ’n liedjie nie,
Maar wel met elke noot musiek wat iewers begin leef

Refrein:
Onthou kom uit die bloute, lief
Onthou kom uit die niet
Jy sal dit nie kan toonset nie
Jy sal dit nie kan sien nie

Onthou kom uit jou hart

Jy sê vir my ek moet vir jou ’n storie skryf, sodat jy my
Kan onthou wanneer ek dalk sou weggaan met die tyd
Jy sê jy wil van paddas hoor wat prinse word, en hekse toor
En van prinsesse wat in weelde dans dwarsdeur die nag

Ek sê vir jou jy sal my nie onthou met so ’n storie nie,
Maar wel met elke keer wanneer ’n sprokie waarheid word

Refrein

Jy sê vir my ek moet vir jou ’n prentjie verf, sodat jy my
Kan onthou wanneer ek dalk sou weggaan met die tyd
Jy sê jy wil die kleure en die lelies sien van Monet
En dat Van Gogh ook tog ’n plekkie in my prent moet kry

Ek sê vir jou jy sal my nie onthou met so ’n prentjie nie,
Maar wel met elke keer wanneer die son wegsak in goud

Refrein:
Onthou kom uit die bloute, lief
Onthou kom uit die niet
Jy sal dit nie kan teken nie
Jy sal dit nie kan sien nie

Onthou kom uit jou hart
Onthou is in jou hart

Woorde en musiek: Jeanette Cilliers
Uitgewer: Jeanette Cilliers/ MS (Samro)