Waar ek ook al ry

Play

Geskryf in opdrag van Laurika Rauch op Gordonsbaai strand
My bootjie was ver en verdwaal
In rowwe see sonder tyding of taal
My hart was gestrand, ek was verdwaal in die sand
Soos ’n perd sonder saal
Ek was platsak en kop-onderstebo
Te voet deur die dorre Karoo
Maar toe jy iewers hoor ek het alles verloor
Het jy my kom haal

Oral dra ek die vrees met my saam
Was altyd oorhaastig of skaam
Ek kon skaars begin om ’n mens te bemin
Dan was alles verby
Soveel verwyte moes ek al verduur
Soveel keer met my rug teen die muur
Maar wat ook al die vraag of waarheen ek ook al jaag
Die antwoord is jy

Refrein:
Waar ek ook al ry is daar net een soos jy
Waar ek ook al ry, ry
Waar ek ook al ry, ry
Waar ek ook al ry
Is daar net een soos jy

Nou woon ons in ’n kamer van glas
En ek onthou nog die hartseer wat was
Daardie bittere tyd daardie koue wat byt
Onherbergsaam en kaal
Elke lyf soek ‘n skuiling teen pyn
Net ’n tafel gedek met liefde en wyn
In die hart van die wind in elke storm, daar vind
Jy ’n sprokiesverhaal

Refrein

Brug:
So sal ek jou onthou
Op hierdie eerste dag van die somer, o-o-ou
Met jou hande op die dashboard saamgevou
So sal ek jou onthou
Op hierdie eerste dag van die somer, o-o-ou
Wys jy vir my die drome in jou atlas
En die plekke waarvan jy so hou

Refrein:
Waar ek ook al ry, ry
Waar ek ook al ry, ry
Waar ek ook al ry
Is daar net een soos jy

En selfs al roep daardie einder my weer
Of die rooimiere jeuk en ek wil weer probeer
Om ander stede te sien, nuwe keisers te dien
In ander velde te wei
Dan vat ek jou saam met my heen
Want van nou af reis ek nimmer ooit meer alleen

Ja, ons padkaart is state of the art
En ons vat wat ons kry

Koor x 2

Woorde en musiek: Koos Kombuis
Uitgewer: Trapsuutjies Uitgewers (Sarral)