Waterval

Play

My letters word ’n ou kasteel
Met torings en ’n grag
My woorde word die water wat
Geduldig op jou wag
En my sinne word die tafels
Wat ek dek vir jou koms
En tussen my paragrawe skuil
My diepste vrese soms

Refrein:
Maar my woorde word die waterval
Wat woedend oor jou waak
My stem word sag en helder
As jou hande aan my raak
Maar my woorde word die waterval
Wat woedend oor jou waak
My stem word sag en helder
As jou hande aan my raak

My verse word die kamers
Waar ek heeldag sit en sing
En elke woord en asemteug
Wil my na jou toe bring
Jou briewe word die vensters
Wat ek oopmaak elke nag
En soos die sterre uitkom
Word my harde hart weer sag

Refrein

Woorde en Musiek: Emile Minnie
Uitgewer: Emile Minnie T/A French Music