Biografie

English Version

Kinderdae

Laurika Rauch is op 1 November 1950 in Pinelands, Kaapstad gebore as die jongste kind van Fritz en Rina Rauch. Sy het ‘n suster, Ingrid en ‘n broer, Johan. Haar pa was openbare betrekkingsbestuurder van Die Ou Mutual en haar ma was ‘n opgeleide maatskaplike werker wat later redaktrise van ‘n vrouetydskrif, Die Huisvrou, was. Laurika onthou haar kinderdae as besig. “Ek was altyd besig om van een eisteddfod na die volgende te gaan. Ek het klavierlesse begin neem vandat ek vyf was en het vir tien jaar in Oom Hannes Uys se Kindersangkring gesing.” Sy het ook voordrag, mimiek en elokusie beoefen. Sy beskryf haarself as ‘n stil kind. Sy het matriek aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad voltooi. Ander bekendes in die musiekbedryf wat ook alumni van dié skool is, is Randall Wicomb en Johan Stemmet.

Studentedae

Ná skool het sy drama gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Laurika onthou hoe sy eendag by ‘n vriendin ‘n paar kitaardrukke geleer het. “Ek was onmiddellik verlief op die kitaar. Ek het daardie nag glad nie geslaap nie en heelnag die nuwe drukke geoefen op, Cripple Creek, ‘n liedjie van Buffy Saint Marie.” Daarna, vertel sy, was sy en haar kitaar onafskeidbaar.