Biografie

Die vroeë dae en Kinders van die wind

Nadat sy haar dramagraad in 1972 verwerf het, het sy Afrikaans gedoseer aan ‘n opleidingskool in Kaapstad. Sy wou egter graag oorsee reis en toe sy hoor dat aankopers vir afdelingswinkels oorsee reis, het sy werk gekry as selekteerder van kinderslaapklere by ‘n bekende afdelingswinkel! “Ek was jonk,” sê sy, “en die wêreld was aan my voete.” Aan die einde van 1974 het sy die Kaap vir Gauteng (die destydse Transvaal) verruil en van 1975 tot 1976 as aktrise gewerk by Truk Speelwerk, onder Robin Malan. Dit was deel van die destydse kurrikulum dat voorgeskrewe werke vir skoolkinders opgevoer moes word en twee spanne akteurs het so van skool tot skool gereis en die voorgeskrewe werke opgevoer.
Aan die einde van die twee jaar-lange kontrak, het Laurika weer deeltyds skool gaan hou en in die aande as kelnerin gewerk om die pot aan die kook te hou. Dit was tydens een van hierdie aande dat sy Katinka Heyns en Chris Barnard by die restaurant bedien het waar sy gewerk het. “Katinka het geweet wie ek is. Sy het my net so gekyk en gekyk en blykbaar vir haar man, Chris, gesê dat ek moet sing – nie biefstuk bedien nie.”
Katinka was in daardie stadium aan die werk as regisseur vir die TV- reeks Phoenix & Kie. Jana Cilliers het ‘n rol as kabaretsangeres daarin vertolk. In ‘n stadium het Jana voorgestel dat Katinka vir Laurika kry om namens haar te sing. “En so het ek Jana se sangstem geword in die reeks. Dit was ‘n groot keerpunt vir my – die rol as ‘spookstem’ vir Jana,” sê Laurika. Die liedjieskrywer, Koos du Plessis, se liedjies is in die klankbaan van die reeks gebruik, en Laurika onthou dat haar weergawe van sy liedjie Kinders van die wind in een sessie opgeneem is. Johnny Boshoff was die verwerker en regisseur.
Ná die vrystelling van die eerste episode van die 1979-reeks, wat vir 13 weke gedraai het, was dié liedjie ‘n oombliklike treffer. Laurika het 7 plate-aanbiedings gekry. Mariana Malan van Beeld/Die Burger het op 5 Januarie 2011 geskryf hoe dit haar geraak het toe sy Laurika Rauch die eerste keer Kinders van die Wind hoor sing het. Skielik was dit op die Springbokradio- en Radio 5-treffersparades, waar dit die nommer een-plek vir ‘n paar weke ingeneem het. Dit was baie uniek vir ‘n Afrikaanse liedjie. Laurika het in dié tyd ook ‘n aanbod vir ‘n vaste aanstelling as onderwyseres by ‘n skool gekry, maar op die krag van haar sukses met Kinders van die wind, kon sy eerder ‘n loopbaan in musiek volg.

Haar sangloopbaan vat vlam: “Encore! Brel” en “Met permissie gesê”

Ná die sukses van Kinders van die wind en haar Debuut-album, het die sanger en liedjieskrywer Anton Goosen haar in Oktober 1979 gevra om saam met hom te toer. Goosen was self besig om in daardie tyd vir hom ‘n naam te vestig met sy oorspronklike Afrikaanse musiek en sy treffer Kruidjie-Roer-my-nie. Voor hom is Duitse en ander liedjies dikwels vertaal en hier uitgereik, maar die oorspronklike liedjieskrywers was dun gesaai. Die toere het baie gehelp om Laurika se naam verder te vestig.
Die grand dame van teater in daardie tyd, Taubie Kushlick, het van Laurika gehoor en haar in 1980 genooi vir ‘n oudisie omdat sy iemand gesoek het om die musiek van die Vlaamse skrywer Jacques Brel in ‘n nuwe produksie saam met Ann Hamblin en Ferdie Uphof te vertolk. Kushlick het vinnig besluit dat hierdie “boeremeisie” soos wat sy altyd vir Laurika genoem het, die aangewese persoon sou wees vir haar nuwe produksie, Encore! Brel. Dit was baie suksesvol en het vir 6 maande gespeel in die Chelsea-teater in Hillbrow. ‘n Opvolgproduksie, The Best of Brel, het in 1983 gevolg.

Sy was ook in 1981 in die rolverdeling van Met permissie gesê, wat deur Hennie Aucamp geskryf is. “Dit was ‘n waterskeiding in Afrikaans – die eerste Afrikaanse kabaret, sê sy”. Janice Honeyman was regisseur en onder meer Amanda Strydom, Rina Nienaber, Gerben Kamper en Bill Curry was in die rolverdeling. Die kabaret was ‘n vorm van uitdrukking en “beskaafde protes” teen die regering van die dag.
Op persoonlike vlak het sy in 1984 met ‘n karooboer se kind en lektor (later ook professor) in ekonomie, Christopher Torr getrou. Hulle het twee kinders, Simon en Nina.