Biografie

Albums

Sedert sy in 1979 met Kinders van die wind byna oornag ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika geword het, het verskeie albums en hoogtepunte gevolg. Haar eerste album, Debuut, het ook in 1979 verskyn.
“Dit was nie aldag maklik om voltyds ’n oorspronklike kunstenaar in Suid-Afrika te wees nie,” onthou sy van ’n pad wat sy dikwels self voetjie- vir- voetjie moes uittrap.
“Die musiekbedryf was nog ’n onbekende terrein en ons het niks geweet van goed soos musiekregte en tantieme nie. Dit was dikwels maar ’n harde leerskool.” ‘Groep 2′ en Sonja Herholdt was natuurlik die voorlopers en baanbrekers en op daardie stadium die enigste sangers op die toneel wat soortgelyke musiek gemaak het.

Tesame met kompilasies het Laurika reeds 23 albums op die rak laat verskyn, waarvan enkele hoogtepunte hieronder verskyn. (Vir die volledige lys, sien Albums.)

Vinielplate

“Debuut”(1979), “ ’n Jaar in my lewe” (1980), “Vir Jou” (1981), “jy is te dierbaar” (1983) “Laurika op versoek” (1985) “Encore! Laurika” (1988)

Al hierdie albums (vinielplate) het van Laurika se grootste treffers
opgelewer. Op “Debuut” en “’n Jaar in my lewe” het Anton Goosen steeds baie van die skryfwerk gedoen, onder meer die snitte Neanderdalman en Vergeet om my te vergeet/onthou om te onthou. Kupido, wat later eintlik bekendheid as countrysanger verwerf het, se Jy is te dierbaar en Lied van die natuur is het op haar 1983 album, “Jy is te dierbaar”, verskyn.

Dit was met Encore! Laurika wat Chris Torr vir die eerste keer sterk op die voorgrond as liedjieskrywer getree het met die snitte Miekie en Die ballade van Jakob F de Beer. Dit was egter sy Op Blouberg se strand, die Udo Jürgens-vertaling, wat veral by die publiek byval gevind het.

Stuur groete aan Mannetjies Roux (1990), Die gang (1992) en daarna

Stuur groete aan Mannetjies Roux lê Laurika veral na aan die hart omdat dit in meer as een opsig ’n baanbreker was. “Dit was my eerste Afrikaanse album wat platinum-status bereik het én dit was die eerste Afrikaanse album wat in Suid-Afrika op CD verskyn het.” ‘n Groep sakemanne van Bronkhorstspruit, waaronder hulle vriend Piet de Jager, vervaardiger van ‘Roepman’, het dit vir Laurika moontlik gemaak om die album op CD vry te stel in ’n tyd toe CD-tegnologie in Suid-Afrika nog haas onbekend en duur was. Chris Torr het gesorg vir die immergewilde titelsnit oor die legendariese rugbyspeler Mannetjies Roux.
Die gang (1992) was eweneens ’n soort waterskeiding omdat dit die eerste album was wat sy onafhanklik in die naam van haar eie platemaatskappy. Laurika Rauch Produksies, uitgegee het.
Die aangrypende titelsnit van die album Hot Gates van 1995, ook een van Chris se komposisies, bly een van Laurika se grootste treffers wat vandag nog dikwels as toegif by haar optredes aangevra word. Sy het ‘n SAMA vir die album ontvang.
Met The Brel Album (1997) het sy teruggekeer na van Jacques Brel se grootste treffers.

Hoewel daar al voorheen ander baie suksesvolle grootste treffers- kompilasies was, kon haar 19 Treffers van 21 jaar (1999) terugkyk op ’n loopbaan van 20 jaar. Hierdie kompilasie het ook dubbele platinum-status bereik (120,000) en bly steeds ‘n goeie verkoper.
Die titelsnit van Vier Seisoene Kind (2002) uit die pen van Gian Groen het homself ook gevestig as een van haar grootste treffers.
My ou tante Koba (2004) is vir ’n SAMA benoem en met haar jongste album, Tweeduisend-en-tien! (2010), het sy onder meer ’n duet opgeneem met Kurt Darren (Slang in die gras) en die Robbie Wessels-liedjie Skouspel 2010, oor ’n bobbejaan wat moles maak in ’n hotelkamer, is een wat die lagspiere kielie met bobbejaangeluide deur die musikant Leon Ecroignard.
Haar eerste en enigste vollengte-DVD van ’n optrede, met Deon de Bruyn as regisseur en Louis Brittz as musiekregisseur, met die titel LAURIKA RAUCH: Grootste treffers LIVE, het in 2006 verskyn.

Loopbaanhoogtepunte en toekennings

(Vir ’n volledige lys sien haar uitgebreide biografie.)
Laurika erken dat dit moeilik is om loopbaanhoogtepunte uit te sonder omdat daar so baie was!
Nadat sy in 1980 ’n Sarie-toekenning ontvang het as die mees belowende sangeres, het baie ander gevolg. Sy was byvoorbeeld die eerste ontvanger van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir haar bydrae tot ligte Afrikaanse musiek in 1997 en Huisgenoot het haar in 2006 bekroon met ‘n toekenning vir haar lewenslange bydrae.
Van Berlyn tot Bapsfontein, saam met Jannie du Toit in 1988, was vir haar ‘n hoogtepunt. “Ek sonder graag die Huisgenoot Skouspel, wat in 2000 begin het, uit vir die manier waarop dit Afrikaanse musiek op ’n swierige manier jaarliks as ’n groot konsert aanbied en sangers se loopbane verstewig,” sê sy. Sy het in 2000 vir die eerste keer aan hierdie geleentheid deelgeneem met verdere optredes in 2001, 2002, 2003, 2006, 2007, 2008, 2009. Sy was ook betrokke by die Huisgenoot se Kaapse Jol in 2007, en Skouspel Plus in 2009 en 2010. Daar was verskeie oorsese optredes, met onder meer ‘n konserttoer in België in 1985 (‘n dokumentêr vir televisie is ook tydens die toer opgeneem), twee optredes in Nederland in 1993 en 1994, drie optredes in Londen (2002 – 2004) by die Ukkasie-fees, twee optredes in Praag (1997 en 1998) en ‘n optrede in Antwerpen in 2006.
Sy sonder ook die produksie Samekoms/Kopano saam met Vusi Mahlasela in 1998/99 uit as ’n hoogtepunt. Laurika was die aanbieder en ook sanger en Deon Opperman die regisseur.
In 2011 het haar man, Christopher Torr, die musiekspel, Stuur groete aan Mannetjies Roux, voltooi, en vier uiters geslaagde speelvakke in die Atterbury-teater in Pretoria, die Kunstekaapteater in die Kaap, Emperor’s Palace in Johannesburg en die Sand du Plessisteater in Bloemfontein, is vanaf Mei tot die einde van Julie voltooi. Bykans elke vertoning was totaal uitverkoop. Nie alleen was van haar gewildste liedjies in die produksie gebruik nie, maar sy het self ook gesing en ‘n rol daarin vertolk. Die stuk, met ‘n rolverdeling van 12 akteur/sangers, het alle verwagtinge – artistiek en by die loket – oortref.

Laurika bly steeds in aanvraag by die publiek en tree gereeld by gesamentlike en in solo-vertonings op. Sy beplan om ‘n nuwe album in 2012 vry te stel.

November 2011