Biography

Inleiding

Laurika se sangloopbaan het in 1976, met die begin van televisie in Suid-Afrika, afgeskop. Sy is deur Stephan Bouwer gevra om te sing in die program Fyn Net van die Woord en toonsettings te doen van Afrikaanse gedigte, soos die nou reeds bekende Toemaar die donker man, ‘n gedig van Ingrid Jonker. In Kaapstad gebore en grootgeword, het sy haar hart verloor op Gauteng, waar sy sedert die middel sewentigerjare woon en werk. Na matriek het sy drama aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Nadat sy ‘n paar draaie in die onderwys en as aktrise gemaak het, het haar sangloopbaan in 1979 onverwags en oornag in ‘n nuwe rigting geswaai toe sy met haar eerste solo opname ‘n onmiddellike treffer gehad het met Kinders van die Wind, ‘n liedjie van Koos du Plessis, ‘n toe nog onbekende sanger/liedjieskrywer. Haar eerste album – Debuut, het op die krag van Kinders van die Wind sommer vinnig goue status verwerf. Oor Laurika se verhoogpersoonlikheid is al baie geskryf. Sy het daardie onmiskenbare “presence” wanneer sy op ‘n verhoog stap en met haar stem en haar besonderse liedjies, oorrompel sy al sedert die beginjare gehore regdeur die land. Sy sal ook vir jou vertel dat haar eerste liefde altyd haar gehore en haar verhoogoptredes sal wees. Vir ‘n kunstenaar wat gereeld optree, opnames doen vir haar CD’s, onderhoude doen vir die pers en televisie, foto-sessies bywoon, self die administrasie van haar loopbaan hanteer, gereeld nuwe vertonings instudeer en inisieer, video’s maak van haar liedjies, baie reis en produksies saam met ander kunstenaars aanpak, is hoë lof aan haar beskore. Suid-Afrika luister, sing saam en vertonings verkoop uit. In ‘n Sunday Times-artikel het Barry Ronge opgemerk, “Laurika’s voice plays every mood and time shift like a virtuoso”. Laurika is bekend vir haar fluweelstem. Wie sal haar onoortreflike vertolkings van Jacques Brel se liedjies kan vergeet, haar rol in die eerste volledige Afrikaanse kabaret van Hennie Aucamp, Met Permissie gesê, en haar optrede in die onnutsige musiekspel Van Berlyn tot Bapsfontein saam met Jannie du Toit? Êrens tussen al die opwinding en reeds vroeg in haar loopbaan, het sy haar hart op ‘n Engelssprekende karooboer se kind verloor. Christopher Torr, komponis en skrywer van baie van haar grootste, asook mees onlangse treffers soos Stuur Groete aan Mannetjies Roux, Op Blouberg se Strand, Hot Gates, Die Gang, Die mense op die Bus en My ou Tante Koba, is haar nommerpas lewensmaat. Hulle het twee pragtige kinders, Simon en Nina. In 1990 word Laurika, met Stuur groete aan Mannetjies Roux, die eerste kunstenaar om ‘n Afrikaanse album, op CD vry te stel.Haar rol in die ontwikkeling en vestiging van die “nuwe Afrikaanse lied” is reeds geskiedenis. Deur die loop van haar loopbaan was daar ‘n hele paar optredes in Europa en Oos-Europa, daar was televisie-optredes, teaterproduksies en tussendeur is sy soms ook stem- en produksieregisseur. Een van Rauch se grootste produksies, pak sy in 1998 saam met Vusi Mahlasela, Peter McLea, Louis Mhlanga, Jahn Beukes en Deon Opperman aan. Dié produksie, Samekoms/Kopano, maak plaaslik én in Frankfurt, Duitsland, opslae. Sy het reeds verskeie goue en platina albums op haar musiekkerfstok. Saam met haar album 19 Treffers van 21 Jaar – lewer sy haar eerste multimedia bydrae tot die mark in die vorm van ‘n skermskut op die CD. Haar volgende multimedia bydrae is op haar My ou Tante Koba (2004) album waarop sy twee video’s van My ou Tante Koba en Vier Seisoene Kind in Digitale video-formaat vir die rekenaar insluit. Sy en haar jarelange vriendin en vennoot, Marlene Serfontein, publiseer in 1999 hul musiekboek, Laurika Rauch: Treffers vir Klavier en Kitaar, met die musiek van 19 Treffers van 21 Jaar verwerk vir klavier en kitaar daarin opgeneem. Na soveel jare in die musiekbedryf, het Laurika gehore steeds aan haar voete. Sy vervolmaak die kuns om gesofistikeerde musiek vir ‘n nismark te sing én kommersieel suksesvol te wees. Steeds sien nuwe albums die lig – teen die einde van 2007 het sy reeds 20 albums op haar kerfstok waarmee sy haar besonderse bydrae tot Suid-Afrikaanse en meer in die besonder – Afrikaanse musiek bevestig. Deurdat sy graag die liedjies van jong opkomende kunstenaars sing en insluit op haar albums, skep sy ook vir hierdie kunstenaars ‘n groter bloostelling en ‘n hupstoot vir hulle onderskeie loopbane. Rauch het haar eie produksiemaatskappy in 1993 gestig. Sy dink met deernis terug aan soveel mense wat haar hand gevat het deur die loop van haar lewe en loopbaan. Sy onthou ondermeer graag Oom Hannes Uys se Kindersangkring uit haar Kaapse kleintyd, en sy koor waarin haar talent op 5-jarige ouderdom begin ontwikkel het. Ander mense soos Mev Sonia Whiteman, haar eerste musiekonderwyseres; ‘n Afrikaansonderwyser, Mnr O E Driesse; die wonderlike Robin Malan, wyle Rina Botha, die spraaklektrise wat haar geleer het van teksontleding; wyle Sarie Lamprecht wat vir ‘n lang tyd haar sangonderwyseres was; regisseurs Taubie Kushlick, wyle Stephan Bouwer, Deon Opperman, Ilse van Hemert en Peter McLea, Christopher Torr; haar ma en pa, Rina Rauch en wyle Fritz Rauch; Kosie van Niekerk van Select Musiek; Katinka Heyns van Sonneblom Films; Vusi Mahlasela; Johan Badenhorst van Kew Productions; Deon de Bruyn van www.africanpictures.com en baie ander kollegas en vriende is almal mense wat iewers ‘n deur vir haar oopgemaak het of ‘n venster in haar kop gesit het. Een van haar mees onlangse bydraes tot ons musiekerfenis, is die twee en ‘n half uur lange DVD wat sy en regisseur, Johan Badenhorst, saamgestel het uit die programme van die Kyknetreeks: Kom Laat ons Sing –‘n Musikale reis van Laurika Rauch, wat handel oor die ontwikkeling van die Afrikaanse liedjie sedert die dertigerjare. As ‘n mens kyk na Laurika Rauch se enorme bydrae tot die Afrikaanse liedereskat – bykans 220 nuwe liedjies wat sy oor die jare aan die publiek bekend gestel het – kan ‘n mens nie anders as om te wonder watse groot dinge dalk nog voorlê nie!