Hi

Ek is so bly om te kan se dat ek reeds 'n kopie van my nuwe album, "Tweeduisend-en-tien!" in my hand gehou het. Dit sal egter eers teen begin Maart in die winkels wees. Ek hoop jy geniet al die nuwe liedjies!

Hier is al die inligitng oor die album:

Ek maak nou al vir 31 jaar musiek.

In 1979, toe Katinka Heyns en Chris Barnard my genooi het om die ‘spookstem’ van Jana Cilliers se karakter in hulle reeks Phoenix en Kie te wees, het ek nie geweet dat die geleentheid, tesame met die reeks se temaliedjie, Kinders van die Wind, die begin van my loopbaan in die Afrikaanse musiekbedryf sou inlui nie. Sonja Heroldt was teen daardie tyd reeds etlike Sarie toekennings trotser en Min Shaw, Gé Korsten, die Veenemans-susters, Francois van Heyningen, Lucille Ackermann, Lance James, Jim Reeves en Groep Twee - om maar ‘n paar te noem - was ook die sterre van daardie tyd.

Ek dink ek kan onomwonde die stelling maak dat my loopbaan se begin op die volgende grondslag gebou was (behalwe baie genade van bo, perfekte ouers, onverbeterlike leermeesters en wonderlike geleenthede as ‘n kind):

• Ek het reeds ‘n paar jaar se werk as vryskutaktrise en sangeres, hoofsaaklik van ‘folk’musiek (waarvoor ek myself op die kitaar begelei het), agter die rug gehad, so ek was gereed en voorbereid toe die geleentheid hom voordoen.
• Stephan Bouwer het my die eerste keer op televisie gebruik in 1976 in die program Fyn Net van die woord, waarvoor hy my ondermeer gevra het om toonsettings te doen van verse soos Toemaar die donker man.
• Jana Cilliers, Katinka Heyns en Chris Barnard het vir my die geleentheid geskep om die liedjies van Koos du Plessis te sing in die reeks Phoenix en Kie.
• Anton Goosen het ‘n paar maande vantevore sy treffer Kruidjie-roer-my-nie vrygestel.
• Kort daarna was Kinders van die Wind ook op die rakke en, tesame met die liedjies van Sonja, het die media opgewonde artikels begin skryf met opskrifte soos: “En hoor jy die magtige dreuning?” – met verwysing na die nuwe golf van afrikaanse musiek wat aan die kom was.

Dit was die begin.

Sedertdien het ek myself besig gehou met die handhawing van die fyn balans tussen my privaatlewe en werk wat vir my kon uitdagings bied – op die verhoog en op my albums.

Baie mense het oor die jare my arms omhoog help hou – as ek begin uitsonder sal ek sekerlik iemand in die proses vergeet. Hulle weet wie hulle is en ek bedank een en elkeen van hulle vir hulle bydrae tot my werk en lewe.

Nog ‘n onomwonde stelling: as dit nie was vir Chris Torr, my man en ons twee kinders, Simon en Nina nie, glo ek nie dat ek nou nog sou gesing het nie. Ek glo nie so nie.

Jy hou hierdie album waarop ek so trots is, in jou hand, omdat Peter McLea die musiekregie en verwerkings vir my gedoen het, omdat Louis Brittz my stemregie behartig het, omdat die musikante hulle wêreldgehalte kuns met my gedeel het, omdat die ingenieurs hulle groot bydraes gelewer het, omdat die liedjieskrywers bereid was om hulle pragtige liedjies aan my af te staan en omdat Select Musiek, na al ons die jare saam, nog steeds vir my so geweldig ondersteun en help om my musiek beskikbaar te maak vir almal.

Vir my bly dit ‘n buitengewone ervaring – elke keer as ek ‘n nuwe album maak. Dit is veeleisende werk - maar die belonings is enorm. Ek is dankbaar dat ek kon bybly en kon deel bly van hierdie bedryf wat soveel unieke kunstenaars en geleenthede tot vandag toe opgelewer het. Soos my sus, Ingrid, sou sê: “What a bargain!”

Die album, Tweeduisend-en-tien!

Daar is tien splinternuwe liedjies, ‘n duet saam met Kurt Darren en twee reeds bekende liedjies wat nuut verwerk is, waarvan een saam met die Singkronieskoor van Pretoria is. Ek het ook ‘n bonus CD ingesluit wat 11 van my liedjies van vroeër bevat.

Ek dra die album op aan my ma, Rina Rauch.

ALLE VERWERKINGS EN MUSIEKREGIE: PETER McLEA

Behalwe: Slang in die Gras - JOHAN OBERHOLZER

Peter en ek loop al sedert 1988 ‘n musiek- en vriendskapspad saam. Ek het oneindige respek vir hom en hy laat die musiek wat ek probeer maak, lewe kry. Ek dink – nee ek weet - hy is geniaal.

STEMREGISSEUR: LOUIS BRITTZ
Ek het die eerste keer in die ateljee met Louis saamgewerk aan my laaste album, ‘n Lekker verlang liedjie. Vir my het hy net eenvoudig die vermoë om die beste uit my te haal. Soos hulle in engels sê: ‘he gets me’ .

LIEDJIES:

1. BROOD
JAK DE PRIESTER
Jak se boek en vertoning wat binnekort gesien kan word, dra dieselfde naam as die liedjie.

2. GOD SE KUNSKAFEE
PROP
Toe Robbie vir my Skouspel 2010 bring om na te luister, bring hy Prop, wat baskitaar vir Robbie speel, se liedjie ook saam. Ek het dadelik ‘ja’ gesê!

3. SKOUSPEL 2010
ROBBIE WESSELS
Hierdie is nog ‘n juweel uit Robbie se pen. Dis ook die snit waarvan ons die eerste video gemaak het en wat eerste oor die radio gehoor sal kan word. Luister veral na die konsertina-klanke van die einste Ricus Nel en geniet sy toneelspel op die video!

4. HIERDIE KEER
MACHIEL ROETS/CHRIS TORR/L RAUCH
Machiel Roets, wat in Londen bly, het oorspronklik die liedjie vir my gestuur saam met ander woorde. Hy het toegestem dat Chris sy eie woorde by die pragtige melodie skryf. Ek het so ‘n klein bietjie ook hand by gesit.

5. JASPER ONTHOU JY
MARIKI DE VILLIERS-KNOP
Mariki is ook die skepper van die gewilde Brêkfis in Bloemfontein.

6. SLANG IN DIE GRAS – MET KURT DARREN
KURT DARREN/JOHAN OBERHOLZER/DON KELLY/MARC BRENDON
Ek geniet dit geweldig elke keer as ek saam met Kurt kan sing. Hy is ‘n besonderse mens en musikant.

7. OORGENOEG VIR OORMÔRE
J.OBERHOLZER & B. HEPBURN
Johan Oberholzer is, in een woord, fantasties.

8. DIE SIENER
CHRISTOPHER TORR
Die skepper van Stuur groete aan Mannetjies Roux, Hot Gates en vele ander ikoniese liedjies het weer ‘n buitengewone liedjie geskryf. Die Siener verwys na Siener van Rensburg.

9. SO IS MY TAFEL GEDEK
LIZE BEEKMAN
Lize het die liedjie die eerste keer vir my laat hoor in die kleedkamer van Skouspel 2008 en hom daar en dan aan my toebetrou.

10. KAALVOETSONG
CARINA DE VILLIERS
Hierdie is ‘n liedjie wat sekerlik vir my bedoel was.

11. EK HET ‘N BOER SIEN DANS
LIZE BEEKMAN
Te mooi om nie ook te sing nie, al het Lize dit reeds self opgeneem.

12. EK WOU JOU LAAT LAG
KARMI MARAIS
Karmi is lid van die groep La Diva en ek het al ‘n paar keer saam met hulle gewerk.

En op spesiale versoek:

HOT GATES IN AFRIKAANS – MET SINGKRONIES
CHRISTOPHER TORR
Ek het vir Peter vrye teuels gegee met hierdie verwerking. Hy het van die begin af gesê dat hy graag ‘n geleentheid om Hot Gates nuut te verwerk, sou aangryp. Singkronies het hulle manjifieke stemme bygevoeg en siedaar! Met behulp van die afrikaanse vertaling, wat in opdrag van Jannie Pretorius vir Skouspel 2008 gemaak was, is daar nou ‘n splinternuwe weergawe.

BONUS CD: LIEDJIES VAN VROEËR

Hierdie liedjies is, in baie gevalle, laas gehoor op die oorspronklike opnames. Ek het die bonus CD ingesluit na aanleiding van versoeke van mense wat sê dat hulle graag van die liedjies vir hulle kinders wil speel om hulle herinneringe met hulle te deel, maar kan dit nêrens in die hande kry nie. Die inhoud strek oor die eerste tien jaar van my loopbaan:

DEBUUT -1979
1. MPANZAVILLE
ANTON GOOSEN
‘N JAAR IN MY LEWE -1980
2. WOUD VAN STILTE
MARIETJIE JOUBERT/HANNES BEUKES
3. KELKIEWYN
ANTON GOOSEN
4. BALLADE VAN 'N KONINGSDOGTER
I.D.DU PLESSIS/LAURIKA RAUCH
VIR JOU -1981
5. STEMME IN DIE MÔRE
KOOS DU PLESSIS
6. EK MAAK NET SOOS EK WIL
KOOS DU PLESSIS
JY IS TE DIERBAAR -1983
7. DIE LIED VAN DIE NATUUR
CUPIDO
8. DROOM
CUPIDO
ENCORE!LAURIKA -1988
9. EK WIL VIR JOU
CHRISTA STEYN
10. DIE WIND WAAI VANAAND VERSKRIKLIK
DINEKE VOLSCHENK
11. JAKARANDAS BLOEI
LAURINDA HOFMEYR

MUSIKANTE:

ALLE KITARE: JUAN (FLOORS) OOSTHUIZEN
BASKITAAR: DENNY LALOUETTE
TROMME EN PERKUSSIE: DAVID KLASSEN
KLAVIER EN KLAWERBORD:PETER McLEA
BANJO EN KONSERTINA: RICUS NEL
STRYKERS: JMI STRYKERS - LEIER: SERGE CUCA
AGTERGRONDSANGERS: CORLEA BOTHA en LOUIS BRITTZ
KOOR OP HOT GATES: SINGKRONIES (www.singkronies.co.za)
TROMPET: DONNY BOUWER
BOBBEJAANSTEM: LEON ECROIGNARD

INGENIEURS:

GEMENG DEUR: MARIUS BROUWER BY POP PLANET STUDIOS,
JOHANNESBURG
RITMESEKSIE EN KOOR OP HOT GATES OPGENEEM DEUR:
ALLI HEYNS BY DIE PAKISTAANSE LOSIESHUIS, RANDBURG
ANDER OPNAMES: DERICK LOUW BY THE SPACE BAR, PRETORIA

MEESTER: JB ARTHUR BY JOE’S GARAGE

HERMEESTER VAN BONUS CD:
DERICK LOUW

FOTOGRAFIE: IVAN NAUDÉ - www.planetivan.com

ONTWERP: ERIL WIEHAHN, DESIGN TANK - eril@designtank.co.za

Select Musiek sal binnekort hulle eie adres hê waar jy aflaaibare snitte van my musiek sal kan koop. Hou my webblad dop vir inligting.

Ek het ‘n facebookadres (pas begin) wat deur my webblad bereik kan word.

Laurika

www.laurikarauch.com

 
KOPIEREG 2007-2008 | WWW.CANTUSSTAR.CO.ZA